As jy in Bloemfontein of die omgewing is, oorweeg dit om hierdie insiggewende seminaar by te woon!
Ons het almal ‘n aangebore gevoel in ons dat daar meer rondom ons aan die gang is as wat die oog kan sien. Hoe weet ons dat daar wel ‘n geesteswêreld is? As ons dit nie kan sien nie, moet ons dit glo? Baie mense (gelowiges en ongelowiges) vandag wil nie glo in ‘n wêreld wat ons nie kan sien nie; wanneer die wêreld wat ons wel kan sien, alreeds moeilik genoeg is om te hanteer.
Wanneer ons oor die geesteswêreld praat, het ons soms ‘n neiging om op te tree soos ‘n tweejarige kind wat sy oë toemaak en ‘n kombers oor sy kop sit. Hy glo regtig dat niemand hom kan sien nie omdat hy hulle nie kan sien nie. Net omdat ons nie die geesteswêreld kan sien nie, beteken dit nie dat dit nie bestaan nie. Omdat ons dit nie kan sien nie, glo ons dit dikwels nie. As ons nie daarin glo nie, kan ons weer nie bewus wees van alles wat rondom ons aangaan – vir en teen ons nie. Of ons kies om te glo in die bestaan van geestelike wesens en plekke, verander nie die feit dat hul wel bestaan en van hul aktiwiteite nie. Die Bybel is gevul met verwysings na die geesteswêreld -‘n plek wat fisies onsigbaar is vir ons oë, maar tog baie werklik in sy bestaan.
Hierdie kort seminaar oor die geesteswêreld word aangebied uit ‘n Christelike perspektief met die Bybel as hoofbron.
Die prys sluit verversings en ‘n ligte middagete in.